Quiver tree in front of a full yellow moon.

Namakwaland

Gabriël

Van die kreukels in die Bokkeveld

tot by die Sandveld langs die see

het die Skepper met sy saaihand

die grond sy saad gegee

Toe stuur Hy sy water waens

swaarlywig deur die ruim

Die blitse riel deur Brandkloof

die wolke gaan aan't skuim

Hy bulder deur die Hardeveld

en die Knersvlakte se droog

donder die draaiduiwels

en bliksem die tier se oog

Maar by Lutzville draai die Skepper om

na al die mens se droog en smart

en die eerste druppels in die stof

is die trane uit sy hart

By Grootvlei maak Hy sy arms oop

en sprei die gordyne reën

By Spoegrivier gee hy 'n vloed

van water en van seën

Lei kraak in die koelte

en gruis breek op in sand

Die dooie hout se skilfer

word voeding vir die land

Op 'n klipbank in die oggendson

lê die koper van kapel

hy gly die lente binne

en los sy dooie vel

En dan, ontwaak Namakwaland

soos die Skepper dit bepaal

die gebooie van ontkiemde saad

uit 'n baie ou verhaal

Eers kraak die kors klein barsies

dan bars die aarde oop!

'n Hoepeltjie van groen

word 'n mat om op te loop

Nou vat God sy verfkwas

en verf die die vlaktes kaal

met kleure uit sy reënboog

met vreugde uit sy kraal

Die Magrietjies en die Botterblom

sprei Hy geel en swart en rooi

En die Gousblom maak hy tot 'n bruid

in suiwer wit getooi

Op die kaaltes dans die Daisies

met die weste winde woes

Koggel die bye boere

wat die stuifmeel wil kom oes

Statig staan 'n Malva

in wit en swart gestryk

Groet beleefd die Skepper

wat sy gallery bekyk

En tussen die klipmos grys en rooi

met Vingervygie pret

loer 'n Dobbelsteentjie

na die Bababoudjie vet

Kokerboom berispe

die stuitigheid en speel

Maar knipoog vir die vol-lyf maan

wat sy kokerhart kom steel

Die Skepper tuur die vlaktes

tot in die Hantam wyk

Hy sien die lag en blydskap

Hy sien die kleur, en kyk

hoe uit die dorre land van gister

'n nuwe wêreld groei

Hoe uit die droogte van beproewings

waardeering spruit en bloei

Colorful wildflowers with blue, yellow, and orange petals.
Laai af

Not a   subscriber yet?

Click here to subscribe - it's free