Verskoning: Ons is tans besig om die hele web bladsy in Afrikaans te vertaal.

Diep toegerol tussen die voue van die Plooiberge in die Oos-Kaap van Suid-Afrika lê die Baviaanskloof. Ons ry wes vanaf Patensie, al met die kronkels van die grondpad langs, en hou die kranse aan weerskante van die pad dop. Hulle klim al hoër en hoër die hemel in (tot 1,500 m hoog!), en net wanneer dit lyk of hulle ons gaan toemaak onder die aarde, verskyn die helder stroom van die rivier.

Ons is in die Baviaanskloof!

Die Baviaanskloof, tussen die Kouga- en Baviaanskloofberge, is een van Suid-Afrika se grootste en ongereptste wêrelderfenisgebiede. Ons pak die kloofpad aan wat vir meer as 200 km saam met die rivier deur die kranse kronkel – smal, diep en donker, met wit skuimende watervalle. Ons ry oor die Doodskloof-pas, verby Bergplaas en Smitskraal, tot by Grasnek met sy pragtige uitsig. Dan gaan ons deur die Poortjies, die nou gang tussen die kranse, en eindig op Die Plaat met sy wye vlaktes. Op die laaste skof na Kamerkloof en Sewefontein stop ons eers by Makkedaatjie.

Die grot by Makkedaatjie met sy groot oorhangrotse en San-tekene van elande, mense en geometriese patrone bring ons oog tot oog met die Khoisan se geskiedenis – ingeskryf in die geskiedenis van die klowe en berge oor meer as 150 000 jaar. Net ’n klipgooi verder lê ’n diep, donker poel waar die rivier onder die kranse invou – stil, swart water met blink weerkaatsings en trae skaduwees wat kom en gaan.

’n Ietwat mistieke gevoel kom kry hier sy lê.

Ek dink ons is nou gereed om vir Oupa Klaas van Sewefontein.

Oil painting portrait of Klaas, an elderly man in a grey knitted cap and blue shirt, rendered in warm golden and ochre tones.

Die Watermense
Gabriël

Die Plooiberge se voue
verkreukel in die kloof
Verfrommel teen die kranse
waar die Berghaan die Dassies roof

Die Baviaanskloof se legendes
uit die Khoisan se verhaal
is geteken teen die rotse
is verewig in die taal

Onder die reuse kranse
kronkel die water swart
met geeste uit die voortyd
met genesing vir die hart

Katjie Drieblaar met Doringbas
genees die oumens klier
Miershoop en Rooiwortel
ontspan die blaas se spier

En slaan jou vel witkolle
waar die Towerwater spat
Met ‘n treksel Tokoloshe bos
maak jy die kolle nat

Klaas, die Kruiedokter
se oë is al dof
maar hy sien nog in sy geestesoog
haar spore in die stof

Die Watervrou draf ligvoets
van die kranse na die kuil
Skommel op haar heup se knop
‘n meisiekind wat huil

Klaas koes agter die bome
toe oorle Oupa praat:
“Pasop vir die Watermense
hul doen jou maklik kwaad!

As jy mooi vra kan hul genees
maar as jy skel kan hulle toor
hul trek jou onder die water in
waar hulle jou vermoor!”

Maar die Watervrou pikswart
borsel haar lang hare in die son
Die baba op die rotsbank
se trane is nou stom

Sy tuur in die kuil se dieptes
waar die skadus kom en gaan
En haar spieëlbeeld word ‘n watergees
wat niemand kan verstaan

Dan sien sy Klaas se gesiggie
loer om die boom se stam
Sy skrik en gryp die baba
en staan ‘n oomblik lam

Toe duik sy in ‘n wye boog
die kind hier teen haar bors,
verdwyn in die kuil se dieptes
hier voor sy verstomde oog

So kom hurk Klaas langs die donker dieptes
op die rivier se bank
en tuur na skaduskimme
van die Watermense, swart en slank

En as die son sak teen die Baviaanskloof kranse
en jy mooi kyk in die pad se stof
dan sien jy nog haar sagte spore
al is hul al ‘n bietjie dof

En hurk jy langs die swartste waters
waar die Watermense skuil
dan sien jy hul skaduskimme roer
dan hoor jy ‘n baba huil

Artistic depiction of !Khwa, the Khoisan water spirit, holding a baby beside a dark pool beneath towering mountain cliffs.

Agtergrond


Die ou San-jagters het die watergees !Khwa beskou as die “ouer suster van die Reën Gees” (Bleek & Lloyd, 1911). Hulle het vertel dat !Khwa altyd ’n baba op haar heup dra – maar dit is nie haar eie nie. Die baba behoort aan die Reëngees wat nog nie gebore is nie. In die ou Khoisan-legendes is !Khwa nie net die simbool van water nie – sy ís die water. !Khwa het nie net in die donker water onder die kranse van die Baviaanskloof gewoon nie, sy wás die water self. Die /Xam-mense het haar !Khwa-ka !khwa genoem: “die Water se Water”, die essensie van alles wat vloei en verberg.

!Khwa het ’n ferm maar regverdige natuur. As jy met respek kom en ’n bietjie tabak of ’n lied aanbied, streel sy jou sensitiewe vel met haar nat vingers en wys jou waar Katjie Drieblaar groei. Sy laat die witkolle verdwyn en voer die pyn in jou blaas weg in die swart waters van die rivier. Maar daag jy op met ‘n lawaai, gooi klippe of skel, dan word haar lang hare toue wat jou enkels gryp en jou onder die swart water intrek. En wie weet wat daarna van jou word?

En omdat !Khwa die ouer suster van die Reën Gees is, het sy bevel oor die eerste reëns van die somer. Wanneer sy haar nat hare in die son kam, val die druppels op die rotse en dit word die eerste reëns ná die winter. Dit omtower die dor Karoo in groen weivelde waar die wild in eindelose troppe kan wei. En elke plant wat naby haar riviere groei, dra ’n bietjie van haar krag in stam en blare. Daarom is sy ook die behoeder van kruie in die veld.

Oupa Klaas Swart is een van die laaste Khoisan-kruiedokters in die Baviaanskloof. Hy sit op sy kooi met sy rug teen die muur.’n Gebreide mus hou sy kop warm. Hy het net een been oor, en sy blinde oë dwaal dof deur die kamer, volg die klanke wat om hom tuimel. Ons groet beleefd en Oupa Klaas glimlag effens, onseker oor wat ons besoek beteken. Die vrae is baie, maar hy antwoord geduldig. Stadig begin hy ontspan. En soos die woorde en klanke rondom hom bekend word, rol sy eie woorde al hoe gemakliker oor die tong.
En ’n vonk van die ou Khoi-vure wat nog iewers in sy gees smeul, flits ’n vlammetjie in sy flou oë.

Tydens ons kuier vertel Oupa Klaas van die Watermense en verduidelik van die kruie in die Baviaanskloof-berge. Hy lag oor die skelm bobbejane wat die Rooiwortel steel en hoe hy begin het om sy kleindogter Chunayda Windvogel op te lei sodat sy eendag by hom kan oorneem as kruiedokter. Chunayda glimlag skaam en trots by die gedagte.

En die toekoms?

Vandag luister en kyk ons na die lang skaduwees van die Khoi en die San uit die verre verlede. En die voete wat die skaduwees anker, is ons almal se voete. En die skaduwees strek terug oor 150,000 – 300,000 jaar, tot by die oorspronge van ons spesie, Homo sapiens. En dié eerste van mense het ook hoeka hier langs die Baviaanskloof-rivier geloop.

Die San is letterlik die oudste familie van die mensdom op aarde.

Die oudste mense buite Afrika is die Aborigines van Australië met ’n geskiedenis van meer as 65 000 jaar.  
En die verskil?

Waar die San se stemme nou byna almal stil geword het met die uitsterf van verskeie tale, sing Australië se First Nations nog vrolik en hard.

Dit is die groot en hartseer verskil.

En die toekoms vir die Khoisan?

Dit hang in die weegskaal soos ’n Khoi-kind in ’n sagte elandvel-karos.
En ons van buite sal moet help.
Nie net om die gewete te stil nie, maar ook omdat ons eie skaduwees geknoop is aan die voete van die Khoisan.


Foto Gallery:


Here is the link to the video recording of our Afrikaans conversation with Oupa Klaas. The video is approximately 30 minutes long: Watch Video

The Song of Tap

The Song of Tap

an ode to the senses

Share to a friend

Every compelling story deserves to be shared. Take a moment to pass along the story to a friend or family. Your recommendation might be exactly what someone in your circle needs to read today. The best stories are those that bring people together.

Next Story

Die Kruiedokter van die Baviaanskloof
Back to the previous page

Not a   subscriber yet?

Click here to subscribe - it's free