Verskoning: Ons is tans besig om die hele web bladsy in Afrikaans te vertaal.

Ons was besig om deur die Etosha Nasionale Park in die verre noorde van Namibië te ry in die winter van 2024, waar ek die foto van hierdie Springbok geneem het. Die ram lê alleen in die middagson, ver uit op die eindelose, verskroeide vlaktes van Etosha (Die Groot Wit Plek in die Ndonga-taal).

Hier op die vlaktes het hy nie die waaksaamheid van die trop nodig nie; hy sal die bekruip van ‘n roofdier kilometers ver kan sien. Hier is daar geen kompetisie in die paarseisoen nie, geen spanning, geen agressie, geen baklei nie. Dit is die tyd en plek om in die warm winterson te lê, die vrede in te drink en met half-toe oë te lê en droom terwyl hy herkou.

Dit is sy Gelukkige Plek.

Maar daar is geen water en geen kos in hierdie plek nie. Die res van die trop is elders. Die hitte wat nou warm maak, kan môre doodmaak. Die groen, welige weivelde bly ‘n lugspieëling anderkant die horison. Hierdie plek sal nie die opwinding bied van ‘n geveg wen, die trop lei, of paar met ‘n ooi nie.

Tog, dit is sy Gelukkige Plek.

Welkom by hierdie uitgawe van “Perspektief”.

Kom sit gemaklik en rustig.

Dink vir ‘n oomblik aan wat jou gelukkig maak.

Miskien is daar  ‘n manier om hierdie kosbare emosie in te bou in elke dag.

As ons Geluk in die oë kyk, stel hy homself voor as ‘n bipolêre ervaring.  ‘n Plek waar ons op ‘n wipplank ry.  ‘n Plek waar ons jaag na die opwinding van die hoogtes en probeer om die teneergedrutheid van die laagtepunte te oorleef.

Kom ons aanvaar dit so, vir ‘n oomblik.

Maar, om die opwinding van Geluk beter te verstaan, moet ons eers deur die donker kant blaai. Ons moet die morbiede gemoedstoestand van depressie vierkantig in die oë kyk.

Dit gaan uitdagend wees. So, wanneer jy gereed is, kom saam met my.

Mnr. Beta was jonk, as ek reg onthou, omtrent 28 of 29 jaar oud. Hy het ‘n pyn in sy voet gehad wat ongeveer 10 maande vroeër begin het. Nee, hy het nie sy voet beseer nie, en sy werk- en oefenprogram het nie daartoe bygedra nie. Nee, hy het dit nog nooit voorheen ervaar nie. Nee, hy het geen ander pyne gehad nie. Ek het sy voet ondersoek, gekyk hoe hy loop, en toe hom toe volledig ondersoek, maar kon niks verkeerd vind nie. Ek vra toe vir Mnr. Beta of hy reken die pyn is lastig genoeg om verdere ondersoeke te regverdig.

Die vraag het hom geirriteer. Natuurlik wou hy dit laat ondersoek as dit nodig was om die pyn te laat verdwyn. So, ons het X-strale, bloedtoetse, en later ‘n ultraklank en CT-skandering gedoen. Alles was normaal.

Ek het toe  ‘n anti-inflammatoriese salf, anti-inflammatoriese tablette, fisioterapie en pynstillers voorgeskryf. Maar niks kon die pyn verbeter nie. Uiteindelik het ek hom na ‘n ortopediese chirurg verwys wat my negatiewe bevindinge bevestig het en ‘n manipulasie onder narkose aangebied het. Dit het ook nie gehelp nie.

Ek het toe probeer om Mnr. Beta vir depressie te evalueer. Ek het gevra oor slaappatrone, energievlakke, gemoedsveranderinge en ander verwante simptome. Ek het probeer om baie oordeelkundig te wees, en verduidelik dat pyn multidimensioneel is, wat beide fisiese en gemoeds aspekte insluit. Mnr. Beta het negatief getoets vir depressie, maar was woedend toe hy uit sy stoel opgestaan. Hy het my vertel wat ‘n onbekwame dokter ek is, dat ek nie sy pyn kon genees nie en dat hy na  ‘n ordentlike dokter sou gaan, wat weet wat hy doen.

Agt maande later het Mnr. Beta teruggekom met  ‘n ongemak op sy maag, gevolg deur ‘n hoofpyn ‘n paar weke later. Hy het toe bekommerd geraak oor verskeie aspekte in sy liggaam. Ek het ‘n diagnose van  ‘n gemaskeerde depressie gemaak en so goed as wat ek kon verduidelik hoe dit werk. Dit was nie goed ontvang nie.

Hy is kwaad uit my spreekkamer uit, en ek het hom nooit weer gesien nie.

Ek kon nie help om jammer te voel vir Mnr. Beta nie. Hy het so gefikseer geraak op al die liggaamsdele, gevoelens en die ongemaklikhede van sy lyf dat dit alles in ‘n nagmerrie ontaard het. In die najaag van al sy obsessies het hy alle vreugde in die lewe verloor. Die vrees dat hy met ‘n emosionele toestand soos depressie of  ‘n obsessiewe neurose gediagnoseer sou word, het sy verdedigings meganismes so geaktiveer dat dit amper onmoontlik geword het om hom te help.

Mev. X se kind het akute mieloïede leukemie ontwikkel en is oorlede. Haar huwelik kon die emosionele spanning nie dra nie, en sy en haar man is 18 maande na die begrafnis geskei. Mev. X het antisosiaal en ernstig depressief geraak, was op verskeie medikasies, het verskeie beraders en spesialiste gesien en het uiteindelik elektrokonvulsiewe behandeling (EKT) onder narkose ontvang met twyfelagtige voordeel. Mev. X het nie net haar kind verloor nie, maar as gevolg daarvan ook haar man, haar familie, haar vriende en uiteindelik haarself. Wat ‘n tragiese eskalasie van ‘n enkele voorval.

Mnr. Y was die seun van ‘n bekende sakeman in die stad. Hy was ‘n alkoholis. Dit was ‘n groot verleendheid vir die familie, wat baie druk op die mediese span geplaas het om die probleem op te los. Aanvanklik was sy alkoholmisbruik gekoppel aan die hantering van stres, ontevredenheid en ongelukkigheid. Die dronkenskap het hom na  ‘n vals Gelukkige Plek geneem, vry van angs en moeilikheid. Maar gou het sake gekompliseer met  ‘n sekondêre probleem van ernstige verslawing wat gereelde hoëvolume alkohol inname vereis het om dit te onderhou. In hierdie toestand het hy dapper, sterk en in beheer van alles en almal gevoel. Die alkohol het sy emosies en sosiale gewete afgestomp, en hy sou argumenteer, baklei, vloek en skel sonder enige vermoë om homself te beheer. Die volgende dag was hy vol berou. In skaamte het hy in trane uitgebars en homself dan net nog meer gehaat. En die oplossing vir sy self verwyd? Nog meer alkohol. So, sou Mnr. Y daagliks terugkeer na die bottel om sy groeiende ontevredenheid met homself en die wêreld te verlig, en die siklus van valse geluk opgevolg deur spyt, voort te sit. Die bose kringloop het homself oor ‘n tydperk versterk het, en die probleem vererger. Ek het gevoel dat die risikos toeneem en probeer om ons vertrouensverhouding te verbeter. Maar uiteindelik het hy homself net nog meer gehaat omdat hy my en almal anders in sy lewe teleurgestel het. Dit het alles in ‘n tragedie geëindig. Dwelms en alkohol is maklike voertuie om ons uit ons harde werklikheid te laat ontsnap. Hulle neem die persoonlike druk weg om kwessies op te los wat moeilik of selfs onmoontlik is om self reg te stel, en bied  ‘n aanloklike ontsnappingsroete wat ons ontevredenheid kalmeer en ons ontkoppel van ons onverbiddelike werklikheid. Dit neem ons na ‘n spookplek van pseudo-geluk wat op daardie oomblik so betowerend is dat dit moeilik word om nie weer daarheen terug te keer nie. Die probleem is dat hierdie delusionele oplossing altyd die werklike probleem oneindig meer kompleks maak, nooit enige kwessies oplos nie en dikwels verhoudings, ondersteuningsstrukture en selfs die rolspelers self vernietig.

Kom ons kyk na die geval van Mej. Z om die impak van die probleem verder te illustreer.

Die jong ma het haar kind teen haar bors stilgemaak. Ons sal haar Mej. Z noem.

Sy het gevra om gedetoksifiseer te word van haar verslawing. Sy het nie geweet wie die pa van haar kind is nie, en haar familie het haar jare gelede al verstoot. Sy het naaldmerke op haar arms en bene gehad, maar ook teen haar nek. Een kant van haar gesig was verlam van ‘n beroerte wat deur haar dwelmgebruik veroorsaak is.

Ek het haar in die hospitaal opgeneem en haar op ‘n rehabilitasieprogram begin. Die program het haar binne-aarse dwelms vervang met ‘n alternatiewe mondelingse middel wat op  ‘n veminderinde protokol toegedien word.

‘n Paar dae later, op die vooraand van Kersfees, is haar pensioen in haar bankrekening betaal. Om middernag het sy haar karige besittings en haar dogtertjie geneem, deur die venster van die saal geklim en in die nag verdwyn.

Ek het my gesig met my hande gedruk toe ek besef sy het my mislei. Sy het geld kortgekom om haar verslawing te ondersteun. Sy het gekies om die middels in my rehabilitasieprogram te gebruik om haar deur te help tot die volgende pensioen uitbetaling. Maar die ergste was die uitdrukking in die dogtertjie se oë wat by my bly spook het. Daardie groot, onskuldige oë. Teen watter kuslyn gaan die lewe haar uitspoel

Beste Leser, ek weet dit is swaar om na hierdie verhale te luister, veral as jy met sommige daarvan kan identifiseer. Dit is egter die werklikheid van baie wat in die skaduwees rondom ons vasgevang is. Baie van ons hak vas aan die onderkant van die wipplank en die hele lewe word  ‘n nagmerrie. Ons probeer al die kunsies in die hoed, sonder sukses en skep dan maklik ‘n spookwêreld van geluk om ons oomblik in die sun op te eis. Hierdie ontsnappingspatroon het altyd tragiese gevolge. As ons net die teenwoordigheid van gees kan behou om iemand in eerlikheid te vertrou om ons te help om weer perspektief en beheer te herwin. Dit is die drumpel van Geluk.

In die laaste verhaaltjie demonstreer Mnr. Alpha die tragiese uiteinde wat mislukkings in die lewe kan hê. Dit kan ons van alle vreugde stroop en ons bring to by die rand van die afgrond.

Mnr. Alpha het die voordeur oopgeruk, verby Ontvangs gestorm, en af met die gang die deur na my spreekkamer oop gehamer. Die dame in konsultasie op die stoel langs my lessenaar het ineen gekrimp en haar gesig met haar arms beskerm.

Ek is klaar, Dok, het Mnr. Alpha in ‘n kwaai stem aangekondig.

Ek het genoeg gehad van al jou pille en jou mooi stories en die hele klomp van julle. Ek het net gekom om jou te sê dat dit alles verby is. Dit is die einde.

Mnr. Alpha was in sy 50s, het bankrot gegaan, en sy besigheid, sy huis en sy vrou verloor. Sy kinders en sy vriende het almal teen hom gedraai, het hy gesê.

Hierdie wêreld is ‘n baie onregverdige plek, het hy voortgegaan. Ek is ‘n mislukking, en daar is niks wat julle daaraan kan doen nie. En moenie eens droom om agter my aan te kom of die polisie te stuur nie, het hy voortgegaan. Ek sal hulle almal skiet.

Hy het die deur toegeslaan, uit die spreekkamer gestorm en met skreeuende bande weggejaag.

Mnr. Alpha is huis toe en het selfmoord gepleeg.

***

Abstract artwork with smooth, curved shapes resembling a stylised creature, placed on a dark surface with a reflective circular object nearby.

Hierdie kunswerk het hoog teen die muur van ons sitkamer gehang. Pa het verduidelik dat ons mense word aangetrek na die Lig soos ‘n mot na ‘n vlam.

Ek dink hy het van God gepraat.

Maar dan begin ons twyfel en begin draai in sirkels. Ons begin vrae vra en verwerp.

Dit is deel van ons natuur, het hy gesê.

En die tragedie: dit ontneem ons van betekenis en vreugde in in lewe.

Dankie dat jy die las van hierdie ongelukkige maar kosbare mense met my gedeel het. Almal is in die wurg greep van die lewe en besig om te verloor. Hulle is skaam en verag hulle self vir die verleendheid waarin hulle is. Tog, ongeag dade of prestasies, tel hulle dieselfde op die waarde-as van die Lewe, as ek en jy. As hulle maar net hulself en hul lot kon aanvaar, die lugspieëling op die horison die rug draai, en stadig deur die kwessies van die lewe werk, soos ‘n trekker wat  ‘n land omploeg.

So, wat het verkeerd gegaan?

Wat het hul beroof van geluk?

Die slim mense beskryf Geluk as ‘n persepsie wat ‘n funksie is van biologiese, sielkundige en kulturele verskynsels.

Wanneer ons lonende ervarings teëkom soos lag met geliefdes, ‘n stil sonsopkoms, of die bereiking van ‘n moeilike doelwit, word ons biologies beloon deur ‘n stortvloed van neuro-oordragstowwe soos dopamien en serotonien wat ons “gelukkig maak”. Ongelukkig is ons gemoed op a medoëlose wipplank wat versker dat die serum vlakkeweer terug val na normaal en dikwels laer as normaal.  Dit laat ons smag na die volgende piek en party plaas alles op die spel om dit te bereik.

Kultureel is geluk  ‘n verkleurmannetjie. In kollektiewe gemeenskappe is sukses en geluk gekoppel aan gemeenskaplike plig en prestasie. Voorbeelde hiervan is die Yolngu stam in Arnhem Land in Australie en die Zulus in Suid Afrika. “Ubuntu” beskryf die kulturele filosofie van “ek is omdat ons is”. Maatskaplike druk met  ‘n oormaat van moets en moenies kan egter ‘n patroon van onderdrukte vreugde beloon. In die individualistiese samelewings waar die res van ons inpas, is prestasie en geluk grootliks gekoppel aan persoonlike prestasie. Tog, ten spyte van ons kulturele konteks en persoonlike agendas, gaan dit hopelik minder oor wat ons najaag en meer oor wat ons kweek.

Sielkundig floreer geluk op die rug van betekenis, eerder as in ‘n oorvloed van besittings of prestasies. Studies, soos dié uit positiewe sielkunde, toon dat vreugde spruit gemaklik uit dankbaarheid, goeie verhoudings, en optredes geskoei op persoonlike waardes. Dink maar aan die genot van  ‘n aangename maaltyd saam met vriende of familie of die satisfaksie daarvan om  ‘n vreemdeling te help. Die najaag van eksterne merkers van sukses, soos rykdom, status, prestasie, of perfeksie, verdraai dikwels geluk en skep ‘n traumatiese terug val van die wipplank.

Geluk vereis die aanvaarding van die lewe se verganklikheid, die omhelsing van beide lig en skaduwee sonder om aan een van die twee vas te klou.

As ons swig voor die aanloklike aantreklikhede van sukses en die dun toutjies van geluk vasmaak aan die maanhare van hierdie wilde hings, ontwikkel die werklikheid van die lewe maklik in ‘n groot verknorsing.

***

A gray go-away bird perched on a bare, weathered tree branch against a white background, showing its distinctive crest and long tail feathers.

Pa het die storie vertel van die Grys Loerie of Kwêvoël in die Bosveld (Crinifer concolor).

Mankwe-meer is naby die middelpunt van die krater van ‘n uitgedoofde vulkaniese ring-kompleks bekend as die Pilanesberge. Dit was laat Sondagmiddag, en Ma en Pa het ‘n piekniek langs die meer gehou. Dit sou die perfekte sonsondergang wees met die sagte groen gras tot teen die waterkant van die meer na die eerste reëns. Die lug was poeier blou met ‘n paar wolkies wat luier oor die meer. Hulle wit pluime perfek  gespieël in die water. Die een-oog son het die voorblad van ‘n glans brosjure geverf met betowerende goud en rooi kwas strepe en ’n warm gloed van sekuriteit wat ‘n mens sou kon laat glo dat dit nooit weer nag sal word nie.

Pa het ‘n glas wyn geskink, en hulle het op die perfekte oomblik geklink. Terwyl hul glase in ‘n heildronk ontmoet het, het ‘n Grys Loerie op ‘n dooie tak van ‘n boom daar naby geland. Hy het sy kuif gelig en sy kop in alle rigtings gedraai in nuuskierige inspeksie, soos alle loeries doen wanneer hulle van boom tot boom vlieg. Die voëls beweeg gewoonlik in pare of swerms rond, maar hierdie een was op sy eie.

Hy het gekyk na die vreemde wesens op die groen gras, na die geel son, en die wit wolke. En toe het sy oë vasgehaak op die betowerende maar perfekte onderstebo wêreld in die spieël van die meer. Hierdie wêreld was so blink en helder, en aanloklik soos wat hy nog nooit voorheen gesien het nie. Die bome was weliger, die gras groener, en die lug blouer as die dowwe wêreld waaraan hy gewoond was. Skielik het die droë stok waarop hy gesit het irriterend en grof geword. Dit het sy kloue laat pyn. Waarom het hy nie lank gelede hierdie plek opgemerk en hierdie perfekte wêreld kom verken nie? Maar, ten minste kon hy dit darem nou doen, het hy gedink. Hy kan dan terug vlieg en die res van die swerm gaan haal om ook hierdie plek te kom geniet wat hy ontdek het.

In die finale inspeksie het hy sy kop weer in alle rigtings gemik en sy kuif laat lig-en-sak, lig-ensak. In kritieke oomblikke soos hierdie kan mens nie bekostig om ‘n fout te maak nie.

En toe het hy opgestyg, en na ‘n paar vlerkslae begin sweef na vir die lugspieëling in die meer, na die blink land met die welige groen gras van sy drome.

Die Kwêvoël het in die water geland, omtrent honderd meter van die oewer af, het Pa vertel. Maar hierdie voëls is bedoel om op boomtakke en op regte gras te sit en nie in die water te land nie, want hulle kan nie swem nie.

So, die Loerie het met sonsondergang verdrink in die pragtige Mankwe-meer.

En die skelm oog van die son het sy laaste betowerende strale oor sy lugspieëling gesprei, ongesteurd deur die voël wat besig was om te verdrink in die onderstebo wêreld van sy drome.

***

Kom ons keer terug na die eensame Springbok op die verskroeide Etosha-vlaktes.

Die ram in sy beste jare is in uitstekende kondisie. Hy is heel moontlik die dominante ram van die trop. So, waarom verkies hy om hier alleen te lê, herkouend in die winterson op die vlakte?

Wel, ek wil graag glo dat hierdie ram presies weet hoe sy Gelukkige Plek werk!

Kyk weer na die foto. Die hitte van die son het die groen weivelde omskep in ‘n eiland in die lug, iewers anderkant die horison van die Etosha. Die ram lê met sy rug na die utopie in die hemel. Maar hy hou ‘n oog op die lugspieëling, goed bewus daarvan dat hy weer daarheen sal terugkeer om te wei en te paar; om teen die ander ramme in die trop te veg; om te vlug van die leeus en troppe wilde honde (Lycaon pictus) en die sluwe luiperd wat bekruip in die nag. Maar die eensaamheid en veiligheid van hierdie Gelukkige Plek is waar hy rus en perspektief kry, waar hy strategie uitwerk, waar hy sy eie beste vriend word. Hierdie eensame Gelukkige Plek hou hom in balans, gee hom krag en wysheid, en maak hom Gelukkig! Maar anders as die vreugde en opwinding van ‘n geveg wen en ‘n ooi dek, bring hierdie plek vir hom vrede.

Sonder hierdie balans sou hy uitbrand en knorrig en irrasioneel word. Hy sou sy verlies aan beheer aanvoel en sy selfvertroue verloor. Dan sou hy sy gevegte begin verloor, en uiteindelik sou die ooie hom afskryf en vermy.

Wanneer ons by die donker kant arriveer, en dit gebeur met ons almal, dan is dit tyd om terug te gaan na die beginsels van vreugde, die eenvoudige waarhede en waardes van die Lewe. Talm daar vir ‘n goeie tyd, terwyl jy herkou.  

Dit is die resep van Vreugde.

***

Versoek:
Baie van ons lesers is deur diep waters en het oorleef.  
Deel gerus die geheim van jou vreugde.

Volgende Keer:
Na die swaar las van hierdie uitgawe, beter ons weer ‘n bietjie ligter gaan.  
Kom ons gaan so lig gaan dat ons opstyg in die ruimte van die voëls!

A stylised illustration of a small red and white helicopter flying over ocean waves at sunset, with a pilot visible in the cockpit and mountains in the background under a gradient sky.

              die plek  
             waar ons woon

The Song of Tap

The Song of Tap

an ode to the senses

Share to a friend

Every compelling story deserves to be shared. Take a moment to pass along the story to a friend or family. Your recommendation might be exactly what someone in your circle needs to read today. The best stories are those that bring people together.

Next Story

die plek waar ons woon

Die Mirage van Geluk
Back to the previous page

Not a   subscriber yet?

Click here to subscribe - it's free