Verskoning: Ons is tans besig om die hele web bladsy in Afrikaans te vertaal.

Om dapper te wees in teëspoed is om die mens waardig te wees;
om wys te wees in teëspoed is om die noodlot te oorwin.
— Agnes Repplier

Hierdie verhaal word opgedra aan alle mans, groot en klein, in die hoop dat ons iets meer sal verstaan van ons eie hart.

Vyf seuns beteken kompetisie: Wie is die sterkste? Wie kan die langste vasbyt? Wie huil eerste? 

Die pa van vyf seuns het dit nie maklik nie.
Hoe lyk wet en orde en hoe handhaaf jy dit? Hoe beskerm jy kosbare eiendom?
Hoe ontlont jy konflik? Wat is regverdig en wat is onregverdig? En sovoorts en sovoorts.

Byvoorbeeld, niemand mag in die huis hardloop nie.

Maar as jy mooi daaroor dink: die gang het ‘n L-vorm wat aansluit by die stoep. Die stoep sluit weer aan by die eetkamer, die eetkamer by die kombuis en die kombuis loop weer uit op die gang. Die perfekte atletiekbaan!
As jy vroeg genoeg begin gly op die gladde rooi politoer van die stoep sal jy net die regte spoed hê om die draai na die eetkamer te maak, sonder om die vertoonkas op die hoek te tref. Hierdie glas vertoonkas was Pa en Ma se trots. Hier was al hulle gunstelling herinneringe uitgestal van talle reise in Afrika en rondom die wêreld.
Die probleem is dat hierdie tipe kompetisie tussen broers gelaai is met die trots van skitterende prestasies in die verlede. Prestasies wat ten alle koste verdedig moet word. En die sleutel tot ‘n verkorting in die baan tyd is die ski op die rooi politoer vloer. Jy kan jou baantyd met etlike sekondes verminder deur die ski spoed te verhoog en die ski afstand te verkort.

En dan volg die onvermeidelike.

Dit was Gysbert se beurt. Gysbert is my oudste broer. Hy het die vorige rekord gehou en het die meeste om te verloor in hierdie wedstryd. Hy tref die vertoonkas met net 25% kontrole oor sy momentum. Hy korrel met sy regterskouer en tref die hout raam tussen die twee glas deure om sy impak op die vertoonkas te beheer.
Dit werk. Nie een van die glas panele breek nie. Die res van sy impak op die kas val onder die ongekontrolleerde 75%. Dit is ‘n baie groot persentasie en die ou in aksie probeer nou sy uiterste bes om skade tot die minimum te beperk.
Die kas swaai wild heen en weer; die inhoud vlieg, skuif en val. Sy hande gryp wild in die lug en vang die Zulu kryger in vlug terwyl hy oor die rand van die kas duik.
Maar hy verloor hom weer want albei hande is nodig om die glasswaan uit Venisië te vang, wat kort agter die Zulu volg.

En dan tref die Zulu die vloer en breek in 54 stukkies.
Ons kon net 51 stukkies opspoor.

Die vyf seuns bestee die res van die agtermiddag om elke hoekie te fynkam en die stukkies versigtig aan mekaar te lym voor Pa van die werk af kom. Stadig neem die Zulu weer sy oorspronklike vorm aan.

En toe kom Pa, sit op sy groot stoel in die sitkamer en lees die koerant voor aandete.

Gysbert: “Pa, daar was ‘n klein ongelukkie.”
Pa kyk onmiddellik op met ‘n kwaai frons tussen sy oë (dit beteken dat hy dit al vantevore gehoor het) en vra: “Watse ongeluk?”
Gysbert sluk swaar: “Die Zulu het van die vertoonkas afgeval”
Pa: “Sommer net so?”
Gysbert: “Ek dink hy het ‘n bietjie onstabiel geraak, Pa.”
Die res van die span wat agter Gysbert staan, knik instemmend soos een man.
Pa: “Hoekom het hy onstabiel geraak?”
Gysbert: “Pa, die ou wat die Zulu gemaak het, het sy voete te klein gemaak. Hy kan nie ordentlik op sy voete staan nie. Hy is … onstabiel Pa”
Die res van die span knik weer saam in volle oortuiging. Gysbert stel die probleem só goed!

Maar Pa moes op een of ander stadium in sy vroeëre lewe ook ‘n seun gewees het, want op een of ander manier weet hy presies hoe dit werk. Sy volgende vraag was dodelik.

Pa: “Het julle in die huis gehardloop?”
Gysbert kyk na die vloer. Ons almal kyk na die vloer.
Uiteindelik beken Gysbert met ‘n swak stem: “Ons het ‘n bietjie gehardloop, Pa”

Daar was twee dinge baie duidelik tussen manne groot en klein in ons huishouding:
No. 1: Daar was geen manier waarop die lapwerk van die Zulu die toets van aanvaarbaarheid sou kon slaag nie. Maar dit was nog steeds noodsaaklik om die herstelwerk so noukeurig as moontlik te doen. Dit wys toegewydheid, spyt en respek.
No. 2: Alle kompetisies, uitdagings en projekte het implikasies, en hierdie implikasies was veronderstel om deel te wees van die aanvanklike risikobepaling. Enige deelnemer kon op enige stadium onttrek.
Niemand het ooit van hierdie opsie gehou nie.

So, Pa het die Zulu kryger in sy hande geneem en versigtig ondersoek. Toe skud hy sy kop, gooi die Zulu in die vuilgoeddrom en gaan haal die sambok.

Pa se seekoei-sambok het twee funksies vervul teen omtrent ‘n 50/50-verdeling.
Die een was om Sterling, ons uiters lui appelblou skimmelhings aan die gang te hou, en die ander was om ons sitvlakke te gebruik om ons prioriteite te korrigeer.

Ons het in ‘n ry gaan staan.
Elkeen het sy pak gevat, om verskoning gevra vir die gebreekte Zulu en Pa bedank vir sy regverdigheid.

Dit is soos dit was. Dit was ‘n billike uitkoms.
Volgende keer moet die berekeninge en risikobepalings beter gedoen word.

Die slot van die deur klik toe.
Ons staan rug-teen-die-muur en tuur die semi-donker in.
Dis game-on.
Vyf perdeby neste hang iewers voor ons van die ou stoorkamer se dak. Die reuse rooi vliegtuie maal rusteloos oor die neste, pomp hulle gifsakke vol voor die aanval.
Die blink koepel oë flits geel. Elke beweging van elke seun registreer in detail.

Die reëls is eenvoudig. Elke man vir homself en die laaste man wat staan, is die wenner. Die verdedigingswapen is vooraf noukeurig uitgesoek: verkieslik ’n middelslag-gwarrietak met stewige blare. Die tak moet lig wees, vinnig kan beweeg en net genoeg blare hê vir minimale windweerstand en maksimum impak.

En dan lig vyf eskaders rooi perdebye so groot soos mossies, gelyktydig en geluideloos die lug in uit vyf basisse. Aanvanklik in formasie maar dan breek hulle op in kleiner taktiese groepe. Die aanvalle is medoënloos. Die indringers se verdediging is moedig maar die vliëniers is veterane en bereid om te veg tot die bitter einde. Soos elke vorige keer slaan die broers een na die ander op die vlug. Die deur klap herhaaldelik toe agter die vlugtelinge wat desperaat die agtervolgers probeer afskud. Die laaste man wat bly staan, kry die swaarste. Sy swaaiende gwarrietak word ‘n fokuspunt vir die geallieerdes wat nou genot put uit die teistering. En dan slaan die deur toe agter die laaste vlugteling.

Daardie aand sal Ma kyk na die opgeswelde gesigte om die eetkamer tafel en vra: “Wat het met julle gebeur?”
Die wenner sal na ‘n kort stilte met ‘n mengsel van trots en vernedering kortliks aankondig: “ons het in ‘n paar perdebye vasgeloop, Ma. Ons sal môre weer reg wees vir skool.”

“Een, twee, drie, Go!”
Die wilde donkies wat vooraf teen digte bosse vasgedruk is, maal rusteloos in die rondte. Die manne het elk ‘n donkie in die oog, storm in, spring op en klou vas vir lewe en dood. Die ou wat die langste bo bly, is die wenner.

En so voorts, en so voorts. 

Maar nou moet ek jou vertel van die Marmer Perd.

Jy sien, as die uitdaging regtig groot is, ek bedoel uitsonderlik groot, dan gaan die eerste aanbod na die oudste.
Ek moet erken, die oomblik toe die gedagte by my posgevat het, kon ‘n mens die hoendervleis op my arms sien en ek het gesukkel om te sluk.

Uiteindelik kom die woorde uit: “Gysbert, ek wed jou dat jy te bang is om Pa se  Marmer Perd van die balkon af tot op die sandhoop voor die garage te gooi”

Gysbert kyk na my in ongeloof. Dan flits sy oë in die rigting van die glans-wit perd op die sitkamer tafel langs Pa se stoel. “Onder geen omstandighede nie! Dit is gekheid” sê Gysbert en begrawe sy gesig agter sy hande.

Die Marmer Perd was Pa se trots en vreugde. Die beeldhouwerk is met die hand deur professor C. Rossi gemaak. Pa het hom in Johannesburg ontmoet en die perd daar en dan gekoop. Dit was 'n pragstuk.

“Dit mag dalk nie so vergesog wees as wat jy dink nie”, sê ek versigtig.
Kom kyk ‘n bietjie hier van die balkon af.

Ons al vyf bondel oor die reëling en kyk af na die sandhoop voor die motorhuis. 

Meer as ‘n uur se berekeninge en redenasies volg. Uiteindelik kom almal tot dieselfde slotsom: as die taak perfek uitgevoer word, dan is dit moontlik. Maar selfs die kleinste foutjie, en die uitkoms gaan rampspoedig wees. ‘n Sitvlak is maar net ‘n sitvlak. Maar as daar enigiets met Pa se perd gebeur, dan mag dit wees dat selfs Pa, wat blykbeer self vroër ‘n jong man was, nie die begrip sal hê om te kan verwerk wat eintlik op die spel is nie. Dit was uiters belangrik dat die kans op sukses meer as 90% moes wees.

Die verste helling van die sandhoop was 4 meter weg van die voet van die gebou met ‘n helling van nagenoeg 45 grade. Die sand was deeglik gesif en die grootste sandkorrels was kleiner as 3mm in deursnit. Die sand was vars afgelaai en het maklik gevloei wanneer ’n mens daaraan geraak het. Die balkon reëling was 4 meter skuins bokant die vêr helling van die sandhoop, en dié afstand kon verminder word met 50cm deur vêr oor die reëling te buk. Indien die perd die helling met voetstuk eerste tref teen presies 45 grade (parallel met die sandhoop helling) en die perd se kop 20cm van die top van die sandhoop af, dan behoort hy gemaklik teen die helling af te skuif en tot stilstand te kom 10cm bokant die voet van die sandhoop. Dit laat 10cm grasie vir berekeningsfoute, voordat die voetstuk die beton pad tref.

Dit was sonder twyfel die grootste risiko onderneming van alle tye.

Tien hande dra die perd met die grootste versigtigheid en sorg op sy pad van die sitkamer tot op die balkon en uiteindelik oor die reëling. Gysbert vou sy heupe oor die reëling en een kry die taak om sy voete op die grond te anker om te verhoed dat hy saam met die perd oor die reëling tuimel. Ons vou sy hande en vingers stewig om die perd se wit marmer. Sy regterhand om die stert en agterbene. Sy linkerhand om die voorbene en die staander. Van onder af hou een broer sy mikrigting reg van voor dop en twee ander die hoek van die perd van links en regs.

Gysbert wieg stadig vorentoe en agtertoe met die perd in sy arms. Die res monitor sy hoeke met groot akkuraatheid. Uiteindelik is almal tevrede.

Gysbert leun nog verder vooroor en kom in vir die finale swaai. Die sweet pêrel op sy voorkop. En dan los hy die perd. 

Die marmer hings drywe statig deur die lug soos ‘n wit wolk vry van gravitasie.
Dan begin hy stadig terugsak na die aarde.

Die perd tref die verste helling van die sandhoop teen presies 45 grade met sy voetstuk eerste. Sy kop raak die sand ligweg 20cm van die kruin en die beeldhouwerk gly teen die helling af, die sand ‘n boog onder sy voetstuk. 20cm Van die beton vloer af, skuif die perd tot stilstand – sonder ‘n breuk of ‘n skrapie!

Versigtig lig ons die perd op uit die sand en elke sandkorreltjie word versigtig afgevee. Daarna dra 10 hande hom noukeurig en versig terug na sy tafel langs pa se stoel. Sprakeloos verkyk ons ons aan sy trotse spiere en sy skitterende skoonheid, mooier as ooit tevore. Vir ons sou dit nooit weer dieselfde perd wees nie. Van daardie dag af was dit nie meer Pa se perd nie, dit was ons Marmer Hings. Hy was die bewys dat onmoontlike dinge soms moontlik kan word as ons genoeg moed het om selfs dwaasheid ‘n kans te gee.
En die beste van alles, ons geheim was veilig by ons hings.

Pa is baie jare later oorlede, nog steeds onbewus van die Groot Uitdaging.

***

Gysbert het die Marmer Perd geërf.
Al die broers was eenstemmig dat dit was soos dit moes wees.
Met die skrywe van hierdie storie het ek vir Gysbert gaan kuier om foto’s van die perd te neem. Ek het die perd versigtig uit sy nis in die sitkamer gelig en hom op die sagte tapyt neergesit.

Die oggendson het geblink op sy marmer maanhare en oor sy breë bors en die bultende spiere in sy kruis. Ek het die perd versigtig teen 45 grade laat leun om die volle impak van son-op-hings te benut. 

En toe rol die 60 jaar oue hings stadig om en breek in stukke op die mat. 

***

Partymaal gooi ek en niks breek nie, en dan koester ek,
maar dit verbrokkel in my hande

***

O ja, voor ek vergeet. Ek en Gysbert het die stukke van die perd versigtig weer aanmekaar vasgelym.
Jy sal nie met die blote oog kan sien waar die breuke was nie!

The Song of Tap

The Song of Tap

an ode to the senses

Next Story

Die Marmer Perd
Back to the previous page

Not a   subscriber yet?

Click here to subscribe - it's free

Share to a friend

Every compelling story deserves to be shared. Take a moment to pass along the story to a friend or family. Your recommendation might be exactly what someone in your circle needs to read today. The best stories are those that bring people together.