Verskoning: Ons is tans besig om die hele web bladsy in Afrikaans te vertaal.

Daar is min dinge in die lewe so ontnugterend
soos die einde van die pad.

In die eerste ronde kan jy ’n passasier wees,
maar daarna is jy in bevel…

Nee, ek is nie bekommerd oor klippe of erdvarkgate nie, Jack. Ek praat met gesag en ondervinding terwyl ons stadig deur die lang gras kruie. Die gras plek-plek so hoog soos die dak van die Ford F250 en selfs nog hoër.

Daar word ‘n storie hier in die Makatini vertel oor ‘n kompetisie, gesels ek verder.
Die eerste ou wat glo ‘n klip oor die Siyadla Rivier kon gooi sou ‘n Datsun wen. Die Siyadla is die smal riviertjie wat die Kosi Mere voed. Na twee jaar is die kompetisie glo gekanselleer weens ‘n gebrek aan belangstelling. Maar die eintlike rede was dat daar geen klippe in die Makatini is om oor die rivier te gooi nie!
En in hierdie deel van die land is daar ook geen erdvarke wat tonnels in die grond grawe nie.

My woorde hang oor die grasvlaktes aan brand in die laatmiddagson. Die enjin kreun rustig terwyl die groot rubber bande die graspolle plat vou in die sand van die veilige Makatini vlakte.

En dan verdwyn ons in die moeder van alle gate.

Die stofwolk styg hoog bo die gras en sif dan stadig terug na die aarde, snuif die laaste snorke uit die Ford tot stilte.

*****

Stel jou vir ‘n oomblik voor dat jy die eienaar en kaptein van ‘n seilskip is wat handel dryf in die Middelandse See. Dit is die jaar 760 voor Christus.

Jou skip is gebou in die Fenisiese hawe Sidon van sederhout uit die Libanon gebergte. Die skeepsbouers is van die beste ambagsmanne teen die kus. Die balke en planke is perfek gesaag en noukeurig geseël met pik. Sy is vyftig voet lank, dra twintig ton vrag, ‘n bemanning van vyf en twintig passasiers. Sy is swaar maar stabiel in ‘n rowwe see, maar kan water skep as sy te swaar gelaai word, soos vandag.

Hierdie is ‘n lang reis van tweeduisend vyfhonderd myl. Jy lig anker in Joppe aan die ooskus en vaar na Tartessos in die Suide van Spanje. Die ruim van die skip is gevul met Fenisiese glasware, wyn en olyfolie in klei kanne en fyn pers linne uit Tirus. Gister het jy nog ekstra sout, droë vis en hout gelaai. Die ekstra gewig het haar nog dieper in die water laat sak, maar hoe hoër die risiko hoe beter die wins.

En dan trek julle die seile op. Dit is laat herfs en die winter knyp al in die aandlug. 
Eers hou julle teen die kuslyn van Anatolië maar Wes van Ciprus gaan lê die wind. Vir vyf lang dae hang die seille slap teen die mas terwyl die bemanning Tuna vang, filetteer, sout en wegpak in die ruim. Jy voel ‘n effense beklemming in jou bors as die waterlyn nog drie duim teen die romp styg.

Anderkant Kreta draai julle uiteindelik weg van die kuslyn. Jou oë anker aan die horison wes. Maar die weer hou goed, die wind stewig in die seile, die see kalm soos ‘n groot groen meer. 

Maar een nag tel die wind op en begin speel met die seile. Jy klim die trappe vinnig na die agterdek net in tyd om die weerlig te sien speel bo die horison. Die see rusteloos in die flitse. Jy neem die stuurwiel by die stuurman oor. Die mas kraak onder die beur in die seile en kantel die skip skeef teen ‘n hoë deining uit.

Stryk die seile! skree jou bevel, en jy voel die stuur verslap onder jou hande as jy die skip uitlewer aan die storm.

Die wind huil deur die takelwerk en die skip se raamwerk kreun onder die waggelende vrag. Die bemanning skarrel oor die dek, om die vrag te beveilig, gly, val en skreeu vir hulp. Angs vlak in die stemme.

‘n Brander breek oor die boeg en die skip skep water aan stuurboord kant. Bemanning en passasiers gryp emmers soos een man om water uit te skep. 
En dan bid hulle die storm in, elkeen aan sy eie god. Die Fenisiërs bid na Baal en Melqart, die Grieke na Poseidon die Hebreërs na die God van Israel.

Maar die storm woed voort, die uitskep raak agter en die skip begin sink. 
Die bemanning skreeu van vrees en in ‘n laaste poging om te oorleef gee jy instruksie om die kosbare vrag oor boord te gooi.

Maar steeds bou die storm op. Die hoofmas knak in die wind soos ‘n stokkie tussen die vingers. Die weerlig flits wit in die oë. Die reën meedoënloos soos die see. 
“God is besig om iemand aan boord te straf, en ons gaan almal saam met hom sterf tensy ons uitvind wie dit is!” skree iemand teen die wind. Almal kyk verwilderd na mekaar. Tien man verdwyn teen die trappe af na die ruim en gooi die lot op ‘n tafel.

En die lot val op ‘n man in sy veertiger jare. Sy gesig is verweerd. Sy hare lank en half versteek onder ‘n wol mus. Sy baard onversorg en geskimmeld grys. Sy skerp oë moeg en ingesink op sy Joodse gelaat.

“Wie is jy en waar kom jy vandaan? Wie is jou mense en vir wie aanbid jy” vra hulle.

“My naam is Jona” antwoord die man. Sy stem skaars hoorbaar bo die storm.
“Ek is ‘n Hebreër en ek aanbid die Lewende God wat die see en die droë land gemaak het.

Sy woorde het die manne met nog meer angs gevul.

“Wat het jy dan gedoen om Hom so woedend te maak?” vra hulle.

Jy hou die gesig van Jona fyn dop toe hy verduidelik:
“God het my gestuur met ‘n opdrag na Assirië in die ooste. Ek was te bang om te gaan en het op hierdie skip geklim om van God af weg te vlug”

Niemand waag ‘n woord nie.
Die geloei van die wind harder as ooit.
Water stroom van die dek met die trappe af na die ruim.
Iemand vra: “Wat moet ons doen om die woede van God te stop?”

En Jona kyk hulle in die oog en antwoord eenvoudig:
“Tel my op en gooi my in die see. Dan sal die storm bedaar”

Maar die manne was angsbevange by die gedagte.
Wat sal gebeur as hulle ‘n onskuldige man in die see gooi?

So, toe draai almal om en kyk na jou vir leiding.

Hulle klere is nat en geskeur en hul hande bloei van veg teen die storm.
Die angs vlak in die wit oë.
Jy luister na die geweld van die wind en die water.
Die weerlig flits weer en weer.
Die donder wat volg oorverdowend bo die storm.

‘n Brander tref die boeg sydelings en die skip rol skeef na stuurboord.
Gaan hy nou omslaan of met die volgende brander?

Stadig knik jou kop op en af.

En op jou instruksie, tel die manne vir Jona op en gooi hom in die skuimende see.

*****

Agt kinders van drie families tuimel oor mekaar, en die Ford stop morsdood met sy neus in die bodem van die gat. Die geskree is oorverdowend.
Jack drapeer oor die paneelbord en Klein Jack wat tussen ons gesit het, is vasgevang tussen die ratte.

“Ben, is jy ok?” roep ek op deur die konsertiena opening onder die kappie in.
Ben was omtrent elf jaar oud, en die sterkste van die kinders.
“Ja oom, ek is fyn!” kom sy antwoord iewers uit die agterkant van die bakkie.
“Trek jouself teen die banke op, tot by die deure agter op die kappie” skree ek instruksies. “Klap die deure oop en help die kinders deur die opening”.

Ben kry dit reg om die deure oop te druk toe die laaste van die stof gaan lê. Hy help die kinders een vir een deur die klappe soos katjies uit ‘n skoendoos.

Behalwe vir ‘n paar kneusplekkies, is niemand beseer nie.

Uiteindelik kruip Jack, Klein Jack en ekself deur die konsertiena, trek onsself teen die banke op en klim deur die klappe. Die agterkant van die kappie, is net mooi gelyk met die grond!

Ons loop sonder woorde om en om die massiewe gat in die aarde.
Die Ford balanseer homself op sy neus en leun net effe teen die kant van die gat.
Die oorblyfsels van die palmtakke, stokke en gras wat die seekoei vanggat bedek het, hang in vlarde.

Ek kyk na die son. Sy flou oog klaar half toe geknip bokant die grasvlaktes.
Die seekoeie sal binne kort uit die water kom om te begin wei. En erger nog, dan die swerms muskiete uit die moeras.

Jack, sal jy na die kinders kan kyk tot ek terugkom met ‘n ander voertuig? vra ek.
Die seekoeie behoort nie ‘n bedreiging te wees as julle ‘n vuur aansteek en bymekaar bly nie.
As ek nou begin draf, behoort ek rondom middernag by die huis te wees en vroeg in die nagnag terug hier om julle op te tel.

Maar in plaas van Jack se antwoord, pluk Klein Jack aan my broekspype: “Hoekom gebruik oom nie die 4L-rat nie?” vra die mannetjie.

Klein Jack was omtrent 5 jaar oud en het op pad hierheen herhaaldelik navraag gedoen oor die funksies en vermoë van dié vreemde klein 4x4-rathefboompie. Ek het verduidelik dat 4L was vir gebruik in moeilike terrein en teen baie lae spoed.
Daarna wou hy ‘n demonstrasie sien teen elke duin wat ons uitklim. Ek het my voet dwars gesit: “Daar is geen noodsaaklikheid nie, Klein Jack; ons is nog nie in die moeilikheid nie”.

Dit was duidelik dat die klein mannetjie nou reken dat die groot oomblik het uiteindelik aangebreek.

“Dit is ‘n baie goeie idee om nou aan 4L te dink Klein Jack” begin ek met ‘n komplement. “Maar die vier wiele van die bakkie moet aan die grond raak, vir die ratte om te kan werk. Ongelukkig staan die Ford op sy neus en die wiele raak nie aan die grond nie, so 4L kan glad nie werk nie”. 

“Maar Oom het gesê 4L is vir wanneer ons in die moeilikheid is, en ons is nou in die moeilikheid! Oom het self so gesê” protesteer Klein Jack terug.

“Ja Klein Jack, jy is reg, ons is nou in die moeilikheid. Maar daar is moeilikheid en dan is daar hengse groot moeilikheid. Wel, ons is nou in hengse goot moeilikheid. En om vir jou die waarheid te vertel, ek weet glad nie wat ons sal moet doen om die Ford uit die gat uit te kry nie. Ek dink dit gaan baie mans en baie dae met pik en graaf neem om die helling van die gat so te verander dat ‘n mens uit die gat kan uitry”

Maar Klein Jack was nie beïndruk nie.

Na nog ‘n paar kop-skuddende rondes om die gat sê ek vir Groot Jack, “Dit is netnou donker Jack, julle beter begin vuurmaak en ek beter begin draf. Ek behoort die sandpaaie te kan volg in die sterlig en teen omtrent 9 uur behoort die maan op te kom. Dit sal my roete makliker maak, en vir julle ook meer lig in die omgewing verskaf”

Dit is toe wat Klein Jack weer aan my broekspyp trek, al die pad langs my lyf opkyk tot in my oë en vra, “Het Oom nie geloof nie?”

Dit was stil vir ‘n geruime tyd.

My antwoord was gerig aan Groot Jack.
“Ek beter gou eers vir Klein Jack 4L demonstreer, sodat hy die beperkinge van ons realiteit kan verstaan. Ek verwag dat die vergasser wat op sy kant lê al reeds sy petrol verloor het, so dit is onwaarskynlik dat die enjin sal vat. Maar julle moet asseblief almal aan die ver kant van die gat gaan staan, want ingeval die enjin vat kan sy dalk heelwat sand en stof opskop.

Toe klim ek vinnig deur die klap, sak met die banke af, skuif deur die konsertiena en drapeer myself oor die stuurwiel. Die petrol dampe in die kajuit was verstikkend het dit swaar gemaak om asem te haal.

Ek haal die handrem af, beweeg die 4-wiel hefboom na 4L, sluit die diff en druk die rat hefboom in die tru slot. Toe trap ek die koppelaar tot teen die vloer. As die enjin vat met petrol dampe wat nog in die vergasser is, sal ek net ‘n paar sekondes van krag het voor die enjin vrek.

Toe ek die sleutel draai, vat die enjin onmiddellik.
Ek druk die petrol pedaal met my regter voet tot teen die vloer.
Die rev meter sping tot aan die einde van die rooi lyn.
Toe pluk ek my linker voet van die koppelaar af en sluit die ratkas in een beweging teen vol revs.

Die grond bars oop in sand en stof en die Ford F250 lanseer soos ‘n vuurpyl uit die gat uit. Sy trek in ‘n boog deur die lug, val op haar agterwiele, spring nog ‘n paar keer rond en kom dan tot stilstand, gereed om haar passasiers te ontvang.

Op pad huistoe kreun die enjin geduldig en tevrede teen die duine uit, spier wit in die lig van die maan. Niemand praat nie.

Uiteindelik kyk ek af na Klein Jack wat tussen my en Groot Jack agter die rat hefbome sit, sy twee hande vertroulik oor die 4L hefboom gevou. 

Wat dink jy van 4L, vra ek versigtig.

Klein Jack het skaars opgekyk toe hy eenvoudig antwoord:
“Oom het vir my geleer dat 4L het baie krag en is bedoel vir wanneer ons in die moeilikheid kom. Maar toe ons regtig in die moeilikheid kom het Oom self nie geglo in wat Oom gesê het nie”

*****

Want, as die pad onder ons voete sterf, word ‘n nuwe pad geskep.

The Song of Tap

The Song of Tap

an ode to the senses

Next Story

Waar Die Pad eindig
Back to the previous page

Not a   subscriber yet?

Click here to subscribe - it's free

Share to a friend

Every compelling story deserves to be shared. Take a moment to pass along the story to a friend or family. Your recommendation might be exactly what someone in your circle needs to read today. The best stories are those that bring people together.