Verskoning: Ons is tans besig om die hele web bladsy in Afrikaans te vertaal.

Die geklop aan die deur was verwarrend, amper asof twee vingers betrokke was wat aan twee verskillende hande behoort.

Ek besluit om ondersoek in te stel, stap oor na die deur en stoot hom oop in die vars Maandagoggend.

Twee wit mans?
Behalwe vir enkele uitsonderings was daar geen wit mense in die omgewing waarvan ek geweet het nie. Maar nog meer vreemd: beide staan skuins en kyk na my oor die linker skouer.

Ek het later uitgevind dat die lang ou Matt was en die kort ou Mooney. Matt het rooi hare gehad, akneelittekens in sy rooi gesig en sy bietjie baard was koersloos.

D-d-d-d, skies om te p-p-p pla, Dok. Matt se een oog kantel skoon skeef van die gesukkel met sy mond.

Maar toe breek Mooney glad in van die kant af. Sy baard was ook nog jonk, maar heelwat meer suksesvol. Ten spyte van sy donkerder gelaat, was sy arms, hande en gesig rooi gebrand deur die tropiese son.
“Dok, die ding staan so…” begin hy maar breek weer af.
Ek kry die indruk dat die ou óf gaan bieg óf ’n groot aankondiging gaan maak.
En dan vang die twee manne se oë mekaar. Matt kyk af na Mooney oor sy linker skouer, en Mooney, wat intussen omgedraai het na die ander kant, kyk opwaarts na Matt oor sy eie linkerskouer. En toe die oë mekaar vang, kon ek sien hoe Mooney sterkte, en wysheid en insig put uit die kommunikasie.

“Sien, Dok, die ding staan so” tel hy weer op waar hy netnou gelos het.

“Ons het ‘n bietjie gaan visvang by Black Rock oor die naweek”

‍

*****

‍

Noord van Black Rock, breek die lang, wit branders soos die frille van ‘n trourok teen die smal, reguit, wit been van die strand. Uit die lug is dit dramaties. Die Kosi-Mere strek noordoos in die rigting van Ponta do Ouro in Mosambiek. Ten spyte van duisende jare van medoënlose aanslag, kon die Indiese Oseaan tot nou toe nog nie daarin slaag om deur die smal sand isthmus te breek, wat die mere beskerm nie. So, die inkswart waters van Amazimnyama waar die groot watermonsters skuil, bly in dramaties kontras met die kristalhelder waters oor die koraalriwwe in die see.

Toentertyd het daar ‘n storie die rondte gedoen van ‘n ryk ou uit Johannesburg wat sy nuwe 4x4 Land Rover in die Makatinie wou kom toets. Noord van Black Rock het die gety hom teen die duine vasgekeer, en stadig sy wiele aan die seekant uitgegrawe. Toe die blink Landy skeef hang, het ‘n brander hom omgekeer en teen die strand afgerol. Hy het so blink-blink in die diep waters van die see verdwyn.

Maar dit gebeur net met besoekers uit die stad. Die locals is slim, sien. Hulle bereken die risiko’s versigtig, beplan hulle roetes met oorleg en maak seker dat niks skeef loop nie.

So, ons was op pad noord met laagwater. Die bande van die Ford F250 het ‘n deuntjie gesing op die nat sand en die enjin wat netnou nog gehoes en proes het teen ‘n duin uit, het rustig gespin soos ‘n gestreelde kat. My broer Charl het kom kuier uit die Suide en sy vriend Karel saamgebring om vis te skiet.

Onthou, manne, ons het ‘n venster van maks. 2 uur voordat die gety draai. Dan moet ons hier uit wees; lees ek die Leviete.
Niemand sê ‘n woord nie. Kyk net so effens skuins.
En ‘n onrustigheid kom lê hier in my bors.

Sien, tyd hier rond is soos ‘n seemeeu. Eers fladder hy hier om jou kop en maak ‘n oorlas van homself. Maar as daar ‘n windjie opsteek en hy gooi sy lyf windaf en sy vlerke styf, dan verdwyn hy uit die oog nog voor jy jou eie oog kon knip.

Nie lank tevore nie, het ek en my broer Gysbert op dieselfde plek geduik. Ons het die Rubber Duck geanker en in vervoering verdwyn in waterwêreld onder die see. Eers kon ons twee mekaar nie weer opspoor nie, en toe kon ons nie die Rubber Duck opspoor nie. Die gety het ingekom, die anker gelig en die wind het die boot weg gedryf. Ons moes kilometers ver swem om by die land uit te kom.

So het twee uur, drie ure geword, en drie ure, drie en ’n half uur. Uiteindelik kry ek dit reg om vir Charl en Karel op te spoor en in die Ford te laai. Toe die Fordjie vat, draai ons Suid, en stop...

Ons het ‘n probleem ouens, sê ek onnodig.

Die smal wit strand noord van Black Rock het verdwyn. In sy plek storm die branders oor die sand en die duine soos ‘n uitbrekers uit ‘n tronk. In die verte waar die mis inrol van die see af, het die drama uitgegrys en die detail het verdwyn in die sproei.

Die ronde maan het vroeg agter die see gelig. Dit wou voorkom of sy nuuskierig was maar ek dink sy was deel van ‘n komplot. Sy het die branders met haar magneet getoor en die uitbrekers opgesweep. Terwyl ek haar dophou, het ‘n verdagte geel in haar wit gelaat verskyn, en ek het geweet haar troefkaart was die nag.

Dit was stil vir ‘n lang ruk, toe ek myself hoor sê:
Daar is geen ander pad hier uit nie, manne.
Ons sal moet inval en deurdruk so hard as ons kan.
As die branders inkom, hou ons terug en as hulle terugtrek storm ons in.
Vensters af en geen veiligheidsgordels nie.
Dit gaan rof wees.

Dit het vinnig ontwikkel in ‘n eindstryd tussen die Springbokke en die All Blacks.
Taktiek was alles. Ons het aangeval met die eerste tekens van swakheid en teruggeval as die All Blacks die oorhand kry.  Spoedig het die vyand sarsies branders gegooi. Nog voor die eerste begin terugtrek, het nommer twee en drie ook ingekom. Die Ford het geskud onder die aanslag en branders het oor die boeg begin breek. Ek het regs geswaai vir die duine en my voet teen die vloer gedruk. Die Ford het gebrul en teen die duin uitgestorm met al sy krag.

Maar toe gebeur dit. Terwyl ons teen die duin uit vlieg, stik die Ford, hoes ‘n paar keer en vrek.

Die vergasser het oorvloei! skree ek bo die gebrul van die branders. Dit gebeur onder die druk om ‘n duin uit te klim. Dit is ‘n ou laai van hom om uit harde werk uit te kom, probeer ek skerts.
Maar my grappie gaan verlore op my twee passasiers.

Hulle kyk skuins na my Ford en een mompel iets van ‘n “dooie donkie”.
Ek moet deel van die “dooie donkie”-skuld hier vat, want ek het self vroeër vertel hoe ek haar vir ‘n appel en ‘n ei op ‘n scrapyard in Durban gekoop het.

‘n Brander tref hard teen die linker flank van die ford. Sy skud en wieg, maar staan vas.

Ons sal vinnig moet speel en die vergasser met die hand uitdroog, sê ek, spring uit, lig die kap en begin werk dat dit klap. Eers lig ons die lugfilter en daarna die 6 skroewe wat die vergasser se dop vashou. Ek druk ‘n ou lap in die vergasser, droog al die petrol uit en buig die nek so ver as moontlik af om te probeer voorkom dat dit weer gebeur. Alles skroef weer aanmekaar.

Sy vat soos ‘n nuwe Mercedes en ons storm terug in die stryd.

Ons wen goeie grond maar val weer vas in ‘n erge kruisaanval. Kort voor lank storm ons weer teen ‘n duin op vir beskerming, maar dieselfde herhaal: Die Ford hoes en proes en vrek.
My twee assistente ken nou die oefening en ons werk vinnig in die kuipe.

Gaan dit nou aanmekaar gebeur?, vra Charl en kyk af oor die besige strand.
Die All Blacks storm met flanke en vleuels teen die duine uit, nou meer selfversekerd as ooit.

Ek het nie vir Charl geantwoord nie. In plaas daarvan sê ek: los die lugfilter af en gooi hom agter in die Ford. Ons moet vinniger by die vergasser kan uitkom.

Ons al drie spring terug in die Ford en val aan met ‘n brul – skaars hoorbaar bo die gedruis van die see. Die Ford bewe en skud, maar val moedig aan. ‘n Dwarsbrander vang hom onkant en tref hom hard in die sy. Skuim en water breek deur die seekantvenster en ons soek weer hoë grond.

Ons sal die needle en seat moet verwyder sodat ek die nek van die vergasser verder kan terugbuig sê ek, toe hy weer vrek. Ses hande werk oorkruis
en versigtig verwyder ons die needle en seat. En toe loop alles skeef.

Die needle en seat glip deur my hande en val op die nat sand onder die Ford. Voor ek ‘n vinger kon roer spoel ‘n brander die kosbaarheid weg na die dieptes.

Daardie deel van die Makatinie kus was populêre broei duine vir see skilpaaie. Veral karetskilpaaie. Maar een nag het ek dopgehou hoe ‘n leerugskilpad haar eiers lê. Sy maak klaar, krap die eiers toe met sand en begin terug kruip na die water. Toe die eerste brander haar tref lyk dit of sy huiwer. Sy stop en laat die koel, helder water om haar spoel. Toe lig sy haar massiewe swart-en-wit lyf op en val tussen die branders in. Die branders het haar toegemaak met water en sand en skuim en haar weggevoer na die dieptes soos ‘n kosbare besitting.

Ek skud my kop en onderdruk die herinneringe, want in my verbeelding het die skilpad verander in my swart-en-wit Ford wat stadig in die branders verdwyn.

Ek hardloop na die bak en kom terug met twee Coke-bottels, binddraad en ‘n tang.

Ons sal agterstevoor moet terugval, manne; daar is geen manier om met hierdie strand deur te kom nie, en omdraai in dié smalte is buite die kwessie. Ons moet terug na hoë grond met ‘n meer geleidelike aanloop.

Hoe gaan ons hom weer aan die loop kry? vra Karel.  Voor ek kan antwoord slaan ‘n groot brander hom van agter skoon van sy voete af, en ek hoef nie verder te dink aan woorde nie.
En soos die brander terugtrek werk die water sand onder die seekant se wiele uit. Die Ford sak skuins and hel oor na die see.

Die taktiek van die maan en die see was goed aan die werk…

Vir ‘n oomblik staar almal twyfelagtig na die eenvoudige gereedskap in my hande, maar niemand waag ‘n woord nie.

Vinnig diskonnekteer ons die petrolpyp na die vergasser, vul die twee Coke-bottels met petrol en bind die pyp stewig toe met draad.

Ons los die vergasser en die enjinkap oop, sê ek, en die instruksies kom vinnig
Charl, skink die vergasser vol met petrol uit die Coke-bottel en hardloop langs die Ford as ons tru. As ek voel hy begin krag verloor sal ek skree “gooi”. Duik in onder die kap en hervul die vergasser. Die waaier gaan die petrol oor jou sprei. Hou die bottel se punt teen die vergasser as jy volmaak, knyp jou oë toe vir die petrol en moenie jou vingers in die waaier kry nie. Spring so gou as moontlik weer uit. Ons sal dit alles in die hardloop moet doen. Kyk uit vir die branders. Ons het omtrent 500 meter om te gaan.

As jy dink die aanval was dramaties, dan moes jy die terugval gesien het!
Charl het met sy Coke-bottel langs die Ford gehardloop, en Karel het met die back-up gevolg.
Elke keer as die Ford krag verloor het Charl ingeduik en die vergasser volgeskink. Die Ford het agteruit deur die branders gebreek tot op ‘n punt waar ons geleidelik tot op ‘n duin kon klim.

En skielik was die wedstryd verby.
Ons het nou wel nie gewen nie, maar ons het oorleef.

Toe die vuurtjie op die bleek-wit sand vat, het die dag ook gaan lê.
Sy geel vlamme het gelek aan die donker.
Skuins bo het die skelm maan gehang - skoon gewas en geel en slu.
Jy het ons amper verongeluk, mompel ek vir die maan.

Geagte leser, het jy al ooit die grys skelet in die ronde gesig van die maan opgemerk?

Terwyl ek kyk, het die bene in haar gesig haar mond effe skeef getrek na links.
Was dit ‘n glimlag of ’n ligte beroerte?
Wel, dis moeilik om te weet. Die maan is vol streke.

Ek wonder hoe ons by die huis gaan kom wanneer die dag breek, mompel ek vir myself, en soek met my oë deur die karige gereedskap in die kas. En toe val my oog op ‘n klein skroewedraaiertjie. Ek tel dit op en bekyk dit noukeurig in die lig van die vuur. Die skag moet omtrent dieselfde dikte as die naald van die vergasser wees. Ek wonder wat sou gebeur as ek ‘n stukkie kon uitbreek tussen twee tange, omtrent dieselfde lengte as die needle en seat gesamentlik met die veertjie in plek?

En tot vandag toe nog wonder ek hoekom die Amerikaners die vergasser so gekompliseerd gebou het. Want, tot aan die einde van sy lewe, het die Ford die duine van die Makatinie met gemak uitgehardloop, sonder om ooit weer te stik of te hoes. En dit alles met ‘n kort stukkie skroewedraaier in sy vergasser in die plek van die needle en seat.

‍

*****

‍

Dit help nie om in die deur te staan en gesels nie, sê ek, en nooi vir Matt en Mooney in my konsultasiekamer in. Beide skuifel sylings deur die deur om dop te hou waar hulle voete heen gaan. Mooney vat die eerste stoel voor die lessenaar, draai hom dwars voor hy gaan sit, gereed om te gesels oor sy linker skouer. Matt doen dieselfde met sy stoel, en sluit aan by die gedislokeerde geselskap.

En wat is fout met julle twee ouens dat julle die wêreld aanvat soos twee strandkrappe, vra ek, en laat ‘n geammuseerde glimlag los.

Ons weet  nie Doc, dis hoekom ons hier is.
Dit lyk of Mooney die gesprek gaan lei.
Maar dan kom Matt in van die sykant af: D-d-d-d, skies om te p-p-p pla, Doc. Ons sal v-v-v vertel wat gebeur het, en dan kan d-d-d dok self besluit wat gebeur het.

Mooney het verduidelik hoe hulle aangebied het om op die Makatinie paaie te werk in die hoop om by Black Rock te kan gaan visvang. Van kleintyd af het hulle gehoor van die reuse visse by Black Rock en gedroom hoe hulle eendag hul droomvis daar gaan vang. Toe leen hulle die werk se bakkie vir die naweek , maak aas bymekaar en stel alles op. Nadat hulle vir ‘n halfuur of so gevang het sê Matt: Ek d-d-d dink daar loop iemand op die s-s-s strand, Mooney.

Dis onmoontlik, sê Mooney. Ons is die enigste mense in die hele area.
K-k-k kyk mooi Mooney, sê Matt. Sien jy daardie spikkeltjie op die verste p-p-p punt van die strand? Ek dink dit is ‘n m-m-m mens, hou Matt vol.

En so het die twee aangehou met visvang, maar elke nou en dan die strand na die noorde noukeurig bekyk om die saak te monitor.

Skielik sê Matt: M-m-m-m Mooney, daar is nou t-t-t twee mense op die strand.
Onmoontlik! sê Mooney, Waar sal hulle vandaan kom? Daar is geen manier om daar bo te kom, behalwe by ons verby nie.

So hou die twee aan met visvang, maar hulle oë is meer op die strand as op die lyne in die see.

En dis toe dat Matt sukkel het om sy hakkel onder beheer te kry: M-m-m-m-m Mooney, dit is twee w-w-w-w wit meisies, Mooney!
Onmoontlik, heeltemal onmoontlik hou Mooney vol. Waar kan hulle vandaan kom?

So, die visvang was vergete.
Beide Matt en Mooney het nou permanent oor die linker skouer na die strand gestaar. Die meisies het stadig in hulle rigting gevorder, elk met ‘n rugsak oor die skouers.

Dit is toe dat Matt met ‘n hees stem fluister: M-m-m-m Mooney, hulle het nie ‘n d-d-d draad k-k-k klere aan nie.

En dit was soos dit was.

Vir een of ander rede het die Afrika-wildernis ontwikkel in ‘n groot aantreklikheid vir Europa se crème de la crème. So, in daardie jare was die Manguzi Hospitaal by die Kosi-Mere ‘n groot aantreklikheid vir welaf Franse mediese studente wat avontuur in Afrika kom soek het.
In die herfs van 1984, het Camille en Margaux daar opgedaag. En laat ek dit nou maar sê soos dit was: hulle was slim, bekoorlik, gebou soos godinne en het geen poging aangewend om hulle bates te versteek nie.

So, Camille en Margaux het rustig agter die twee vissermanne op die rotse verby gedrentel.
Die twee het elke tree en tietel van die Franse skoonhede oor die linker skouer dopgehou, en hulle nekke gedraai totdat daar geen draai meer oor was nie.

En dit is waar die nekke van Matt en Mooney vasgehak het.

*****

‍

The Song of Tap

The Song of Tap

an ode to the senses

Next Story

Noord van Black Rock
Back to the previous page

Not a   subscriber yet?

Click here to subscribe - it's free

Share to a friend

Take a moment to pass along the story to a friend or family. Your recommendation might be exactly what someone in your circle needs to read today. The best stories are those that bring people together.